HUWELIKSVOORWAARDEKONTRAKTE

Huwelik Binne Gemeenskap van Goedere

Indien partye binne gemeenskap van goedere trou beteken dat al hulle bates maar ook hulle skulde wat hulle voor en gedurende die huwelik opgebou het, gedeel word in een gesamentlike boedel. Alle bates en skulde wat een van die partye dus voor sy huwelik gehad het, word saamgevoeg en vorm deel van die gesamentlike boedel nadat hulle getroud is.

Huwelik Buite Gemeenskap van Goedere

Partye mag voordat hulle in die huwelik tree, ‘n kontrak aangaan wat die huweliksbedeling tussen hulle reël, en wat normaalweg stipuleer dat die huwelik een is van buite gemeenskap van goedere. Hulle mag verder stipuleer of die aanwasbedeling soos uiteengesit in die Wet op Huweliksgoedere, Wet 88 van 1984 op hulle huwelik van toepassing is, al dan nie.

Die verduideliking van die Aanwasbedeling

Dit is belangrik om op die volgende te let:

1. Elke huwelik buite gemeenskap van goedere is outomaties onderhewig aan die aanwasbedeling, tensy dit spesifiek deur die kontrak uitgesluit is.

2. Die aanwasbedeling beteken eenvoudig dat by ontbinding van die huwelik deur dood of egskeiding, verkry die gade wie se boedel geen aanwas toon nie of ‘n kleiner aanwas toon as die boedel van die ander gade, ‘n vorderingsreg vir ‘n bedrag gelyk aan die helfte van die verskil tussen die aanwas van die onderskeie gades se boedels.

3. Die aanwas van ‘n boedel van ‘n gade is die bedrag waarmee sy netto boedel waarde by die ontbinding van die huwelik, die waarde oorskry by die aangaan van die huwelik.

4. Gewoonlik is erfenisse of spesiale bemakings en donasies wat ‘n eggenoot gedurende die huwelik ontvang, uitgesluit van die aanwasbedeling, tensy die huweliksvoorwaarde kontrak ander stipuleer.

5. Dit is baie belangrik om daarop te let dat die aanwasbedeling nie die posisie van krediteure raak nie en slegs van toepassing is tussen partye by dood of egskeiding.